|
.
|
|
Die
Kleios Klonkie
Deur Jurie Pieterse
Jy,
Jy in jou beskermde dop,
jou lang blink motor,
jy wat niks hier in my wêreld verloor het nie,
maar tog hier kom oortree.
Wat soek jy in my wêreld?
Jy het niks hier te doen.
Jy ry in jou motor
en kyk na die mooi berge, my berge.
Jy draai jou kop weg
as jy verby my ry.
Jy wil my nie sien nie.
Hoekom nie?
Is jy skaam vir my?
Voel jy dalk skuldig?
Wat weet jy van my?
Kry jy my jammer?
Ek bedel nie,
ek is te trots.
Ek, ek het gister klei by die rivier gaan haal.
Ek werk hard om hierdie potte en
kleiosse te maak.
My ma, sy werk ook hard.
Sy vleg die matte en mandjies
van die gras.
Maar jy,
jy kry my nie jammer nie.
Hoekom moet jy?
Dit is tog jou, die witmens
se skuld.
Jy,
jy het genoeg geld.
Om vyf rand vir my harde werk te gee
sal nie maak dat jy een aand honger
gaan slaap nie.
Ek is nie so gelukkig soos jy,
ons het nie elektrisiteit nie,
en ek gaan slaap baie aande honger.
Jy,
jy dink dis my skuld.
Jy sê
"jy is te lui om skool te gaan,
jy brand die skool af,
jy is niks anders as 'n
bedelaar en dief."
Maar jy is verkeerd.
Dit is nie my skuld nie.
Ek wil,
Ek wil, o tog so graag skoolgaan.
Ek verstaan nie van model-C.
Ek brand nie die skool af nie,
dit is die werk van die tsotsi's.
Dis die tsotsi's wat die klippe gooi
en die busse stop.
Ek is nie een van hulle nie.
Toe ek klein was het ek gebedel,
omdat ek nog nie kon werk nie.
'n Dief?
Hier, hier is niks om te steel nie.
En as hier was, 'n mens moet ook eet...
Jy,
jy ken nie my hartseer.
My pa,
hy moes loop werk soek by Egoli.
Ek sien hom vir lang tye nie.
Soms kom hy kuier.
Dan bring hy pakke cheesecurls,
sulke groot pakke,
en 'n groot pak suiker en meel,
maar Christmas is die beste tyd,
dan my pa hy sal lekkers bring
en 'n rol draad en 'n tang.
Dan hy help ons om 'n draadkar te bou.
Ons speel baie lekker daarmee.
Ek is baie lief vir my pa.
My vriend se pa hy is dood.
Hulle sê dis die rotstorting.
Die myn is 'n slegte ding,
dit gee geld maar
dit maak die amathongo kwaad.
Hulle hou nie daarvan dat ons
mense onder die grond werk nie.
Onder die grond,
dit is die plek vir die dooies.
In die hostels drink die mans baie,
en slaap met vreemde vrouens.
Die mans steek mekaar met messe
of die polisie slaan die mense vir niks nie.
Soms mag hul nie gaan werk nie - strikes.
En dan is daar die opstokers...
Jy,
jy gee nie om nie.
Niemand gee rêrig om nie.
Nie eers die welfare nie.
'n Paar mane terug het die state,
nou noem hulle dit die regime,
iemand van die welfare gestuur.
Die mense van die welfare kom baie.
Sy het vir ons inspuitings gegee en
ons geleer om ons eie groente te groei,
maar sy,
sy is ook nou weg.
Partykeer is hier ander mense,
noem hulself reporters,
BBC, CNN, maar gee hulle om?
Jy,
jy ry verby Durban toe
of kom hou vakansie in die Drakensberge,
die berge wat aan my behoort.
Ek was lank voor jou hier.
My beeste en bokke wei al hier
nog voor Jan aan die Kaap gekom het.
Maar jy,
jy sal nie 'n bietjie van jou baie geld
vir ons gee nie.
Jy het nie soveel geld nodig nie.
Jy is nie soos onse suster die wolk nie,
sy gee vir ons baie reën.
Sy is nie skaam nie.
Gee sy vir jou so baie reën?
Jy,
jy verstaan my nie,
jy gee nie om nie,
jy is gevoelloos,
my hartseer kan jy nie verstaan nie,
my honger sal jy nooit voel.
ek wens ek sien jou nooit weer nie.
Ek wens jy het nooit gekom nie,
ons mense het gelukkig geleef
voordat jy gekom het.
Ek wens ek kan nog beeste oppas,
saans na die stories van die ou manne
luister oor die maan en die leeu,
om die vure dans en geen bekommernisse
hê oor die dag van more nie.
Maar jy,
Jy sal dit mos nie verstaan nie?
|

Nelson Mandela: Long Walk to Freedom
An awe inspiring autobiography of Nelson Mandela. A man
who spent 27 years in prison on Robben Island, yet still his spirit would
not fail the people of South Africa.
A must read for a deeper insight into the mind of the
oppressor and the oppressed. Be inspired by the strength of the human
spirit. About $12
|